Wanneer jy gedreineerd voel

2023-02-21
Psalm 23:2 NLV

Selfs wanneer jy reg lewe en al die regte dinge doen, kan die lewe jou steeds gedreineerd laat voel. Soms voel jy gedreineerd, nie omdat jy enigiets verkeerd gedoen het nie, maar net omdat jy in die wêreld woon. Die kombinasie van die wêreld, die vlees en die duiwel sal jou geestelike lewenskrag by jou steel as jy dit toelaat.

Jy probeer bid, maar die woorde kom nie. Jy weet dat jy jou Bybel behoort te lees, maar wanneer jy probeer om dit te doen, raak die letters deurmekaar en niks maak sin nie. Jy is nie lus om na geestelike mense, veral die van hulle wat jy vermoed hulle positiewe standpunte veins, te luister nie. Jy gaan net deur die geestelike bewegings, knik jou kop en sê amen; maar in jou siel voel jy leeg.

Dawid, wat eers ‘n skaapwagter was, het gesê dat God ons laat rus. Hoekom? Omdat ons net soos skape sal aanhou ronddwaal en onsself uitput.

Let op die twee dinge wat Dawid sê: 1) ‘Hy laat my rus in groen weivelde…’ Die woord ‘groen’ beteken ‘vars.’ Jy het elke dag deur gebed en ‘n nuwe inname van sy Woord, ‘n vars ontmoeting met God nodig. Brood is nie die enigste ding wat oud kan raak nie; jou geestelike lewe kan ook.

2) ‘…Hy bring my by waters waar daar vrede is’ (vers 2 AFR83). Jy het tyd vir stilte en introspeksie nodig. ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (Psalm 46:11 NLV). Die enigste manier om God intiem te leer ken, sy leiding aan te voel en krag uit sy mag te put, is om stil te wees.

Sielskos: Rom 9:17-11:36; Luk 10:38-42; Ps 33:13-22; Spr 5:15-20