Gebreekte pyle
2023-02-20Psalm 127:3-4 NLV
Ons kinders is soos pyle; hulle moet in die regte rigting gerig word. Wanneer hulle in die verkeerde rigting gerig word, kan hulle in geweld, dwelms en vernietigende leefstyle opeindig. Solank ons hulle bespot of oordeel, sal hulle nooit gemaklik voel om vir hulp na ons te draai nie. Gebreekte pyle kom in alle kleure en vorms voor: swart, wit, ryk, arm. Pyn bevooroordeel nie; dit spaar geen ouderdoms- of sosiale groep nie.
Wat is die antwoord? Laat die sterkes die laste van die swakkes dra (sien Romeine 15:1). ‘Jesus… het ‘n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak’ (Matteus 14:14 NLV). Toe die dissipels gedink het dat hulle in die storm gaan sterf, het hulle nie Christus se krag uitgedaag nie, maar sy deernis: ‘…Leermeester, skeel dit U niks dat ons besig is om te vergaan nie?’ (Markus 4:38 NLV).
Waar daar nie deernis is nie, sal daar nie ‘n wonderwerk wees nie. Eers wanneer jy deur iemand se pyn geroer word, eerder as om deur hulle simptome afgesit te word, kan jy hulle genesing meebring. Een skrywer merk op: ‘Ons kan soveel kerke bou soos ons wil. As mense egter nie ‘n liefdevolle stem in ons heilige sale kan vind nie, sal hulle onaangeraak deur ons clichés en godsdienstige retoriek beweeg. Kerk is nie ‘n klub vir welgesteldes nie, maar ‘n hospitaal vir diegene wat genees en bevry moet word. Jy hoef nie van alles te hou van die mense wie jy geroep is om te dien nie, maar jy moet hulle liefhê omdat God dit doen.’
Ons is geroep om diegene wat die wêreld weggegooi het bymekaar te maak, omdat hulle vir God saakmaak: “Die magtige Here sê: ‘Die dag as Ek ingryp, sal hulle my kosbare besitting wees…'” (Maleagi 3:17 NLV).
Sielskos: Rom 7:1-9:16; Luk 10:25-37; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14