Jy dors na God
2023-02-19Johannes 4:15 NLV
Hierdie Samaritaanse vrou het die leegheid in haar lewe met verskeie verhoudings probeer vul. Dit het egter nie gewerk nie. Wanneer jy dit wat slegs in Christus gevind kan word in enigiemand anders soek, plaas jy soveel stres op die verhouding dat dit onder die gewig daarvan sal breek.
Hoekom het Jesus gesê: ‘Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie…” (vers 18 NLV)? Omdat jy die patroon om ander mense as ‘n narkotiese middel te gebruik om die pyn in jou innerlike leemte te verdoof, moet verbreek. Hoe meer jy die simptome medisinaal probeer behandel, hoe minder kans is daar dat jy God sal toelaat om die oorsaak te behandel.
Die ander disfunksionele neiging is dat jy aanhou om die dosis te verhoog. Wanneer jy al hoe meer van ander mense, in plaas van God, afhanklik raak om ‘n gevoel van heelheid in jou lewe te skep, misbruik jy jou verhoudings. Om aan mense vas te klou is baie anders as om hulle lief te hê. Dis nie soseer ‘n liefdesverklaring as ‘n uitroep van jou behoefte aan hulle nie. Soos wellus, is dit uiters selfsugtig. Jy neem, eerder as om te gee.
Jesus het hierdie Samaritaanse vrou se dors met sy Woord geles deur te sê: ‘Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel’ (vers 14 NLV). Luister na haar getuienis: ‘Kom kyk self – ‘n man het my alles vertel…’ (vers 29 NLV). Wat Jesus vir haar gedoen het, sal Hy vandag vir jou doen.
Sielskos: 2 Kron 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8