Verbintenis begin met omgee

2023-01-24
1 Tessalonisense 3:12 NLV

Een van Amerika se suksesvolste telefoonmaatskappye het ‘n advertensie met die slagspreuk: ‘Kan jy my nou hoor?’ geskep. Dit het ‘n man uitgebeeld wat oor die foon praat, maar die persoon aan die ander kant kan hom nie hoor nie. Dus vra hy aanmekaar: ‘Kan jy my nou hoor?’ Die advertensie is ontwerp om die boodskap weer te gee dat hierdie spesifieke telefoonmaatskappy hoë-kwaliteit sein het.

Wat is jou onmiddellike reaksie wanneer jou foon sein verloor? Irritasie? Frustrasie? Woede? Dr John Maxwell skryf in sy boek Everyone Communicates, Few Connect, die volgende: ‘Wanneer ek met mense omgaan, weet ek dat ek ‘n verbinding gemaak het wanneer ek die volgende waarneem: Ekstra moeite – mense stap die ekstra myl; ongevraagde waardering – hulle sê positiewe dinge; onbewaakte openheid – hulle wys vertroue; verhoogde kommunikasie – hulle druk hulself makliker uit; aangename ervarings – hulle voel goed oor wat hulle doen; emosionele gebondenheid – hulle vertoon ‘n verbintenis op ‘n emosionele vlak; positiewe energie – hul emosionele ‘batterye’ word deur samesyn gelaai; onvoorwaardelike liefde – hulle aanvaar sonder voorbehoud. Ek weet dat ek met mense ‘n verbintenis het wanneer ek enige van hierdie tekens opmerk. Hoe gaan dit met jou wat verbintenis betref? Wanneer jy ‘n een-tot-een interaksie met iemand wat belangrik in jou lewe is het, sien jy hierdie tekens? Selfs al is jy nie goed daarmee om verbintenisse aan te knoop nie, kan jy leer hoe om dit te doen.’

Eerstens moet jy egter waarlik omgee vir die persoon waarmee jy ‘n verbintenis wil aanknoop. Dis hoekom Paulus skryf: ‘En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir ander mense… groot en oorvloedig maak…’

Sielskos: Pred 9-12; Luk 5:12-26; Ps 96; Spr 3:5-6