Dis opleiding vir beter dinge

2023-01-21
Romeine 8:28 NLV

Toe Josef in die tronk gegooi is, was dit vir hom moeilik om te sien hoe hierdie pad tot die vervulling van sy droom kon lei, maar dit het, omdat God ‘n plan vir sy lewe gehad het. Hy het ook ‘n plan vir jou lewe! Jou huidige werk mag dalk slegs voorbereiding wees vir die werk wat God regtig vir jou in gedagte het. Miskien nie vandag of more nie, maar as jy getrou bly, sal daar ‘n tyd kom wat jy terugkyk en besef hoe God jou treĆ« gerig het (sien Psalm 37:23).

Weier dat ‘n gevoel van slagofferskap jou vrede steel. Jou werk, ten spyte die probleme, sou die droom van sommige van jou voorgeslag gewees het. Het jy nie vir hierdie werk waaroor jy nou so kla, gebid nie? So moeilik soos dit dalk mag wees om te aanvaar, jy is waar jy is vir ‘n rede – en vir ‘n seisoen. Studeer dus, doen die huiswerk, skryf die toetse, behaal die graad en beweeg aan na dit wat God volgende vir jou beplan.

Daar is sekere kwaliteite wat jy van jou huidige posisie na jou volgende een moet neem, dinge soos vaardighede en karakterontwikkeling. Jy mag dalk rekenaar- en sosiale mediavaardighede moet aanleer – plus geduld en dankbaarheid. Jy mag dalk moet leer hoe om ‘n kantoor te bestuur – en hoe om jou buie te beheer.

Wanneer jy deur God gelei word, word geen ervaring gemors nie, want: ‘…ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). God weet wat Hy doen, vertrou Hom dus; Hy gebruik elke ervaring om sy wil te laat geskied en ons blydskap te vervul.

Sielskos: Pred 1-4; Luk 4:31-44; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2