Is jy krities teenoor ander?
2023-01-12Numeri 12:11 NLV
As jy dink dat jy ander kan kritiseer omdat jy net jou reg op vryheid van spraak uitoefen, stop en oorweeg hierdie vier dinge: 1) God het dit as sonde gesien toe Aäron en Mirjam vir Moses gekritiseer het omdat hy met ‘n Kussitiese vrou getrou het. Die Here het Mirjam met melaatsheid getref en Aäron was gou om berou te kry: ‘…moet ons asseblief nie straf vir die dom ding wat ons gedoen het nie.’
2) ‘n Kritiese houding sal jou verhoudings skade aandoen. ‘Die Here sê toe vir Moses: ‘…Verban haar nou vir sewe dae lank uit die kamp uit. Eers daarna mag sy terugkom’ (vers 14 NLV). Melaatsheid was aansteeklik en diegene wat dit onder lede gehad het, moes hulself afsonder. Wanneer jy daarvoor bekend word dat jy krities is, sal mense hulle van jou distansieer en jou vermy. Dis ‘n kwessie van vertroue; hulle weet dat as jy ander mense met hulle bespreek, sal jy hulle ook met ander mense bespreek.
3) ‘n Kritiese houding hinder almal se vooruitgang. ‘Mirjam moes toe sewe dae lank buite die kamp bly. Die volk het nie verder getrek voordat Mirjam weer terug was by hulle nie’ (vers 15 NLV). Was jy al ooit deel van ‘n groep waar een mens so baie fout gevind het dat dit die effektiwiteit en vooruitgang van die hele groep verhinder het?
4) ‘n Kritiese houding maak jou verhouding met God seer. ‘Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is, met ‘n opregte hart die waarheid praat; wat nie sy medemens belaster, hom benadeel, of van hom kwaadpraat nie… Só ‘n mens sal vir altyd stewig staan’ (Psalm 15:1-3, 5 NLV).
Sielskos: Jes 34-37; Luk 2:21-33; Ps 71:17-24; Spr 2:3-5