Mediteer-perkoleer (5)
2023-01-11Psalm 19:9 NLV
‘Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag. Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig. Die Here se bevele is reg, dit bring vreugde vir die hart. Die opdragte van die Here is duidelik; dit gee insig vir die lewe. Die gebooie van die Here is suiwer, dit bly vir altyd staan. Die Here se voorskrifte is reg; elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud… Hulle is soeter as heuning… Dis ‘n waarskuwing vir u dienaar, en ‘n groot beloning vir diĆ© wat dit gehoorsaam. Wie kan sy eie oortredings herken? Spreek my vry oor verborge sondes, en bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek vry wees van skuld, en onskuldig aan groot oortredings. Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (verse 8-15 NLV).
Hierdie gebed wys dat die Psalmdigter meditasie as ‘n absolute noodsaaklikheid vir sy geestelike lewe geag het. As dit vir hom in sy dag waar was, hoeveel te meer is dit nie vandag vir jou noodsaaklik nie! Jy moet jou gedagtes elke dag in die waters van God se Woord reinig sodat jou woorde en gedagtes vir God aanneemlik mag wees.
Gebruik jou tyd – die begin van die dag, jou teetyd, terwyl jy huis toe bestuur, voor jy in die aand aan die slaap raak – om oor die waarheid van God se Woord na te dink. Die grootste verandering in jou lewe sal deur die proses van meditasie oor die Skrif meegebring word – deur die Woord van God toe te laat om deur jou gedagtes te filter en in jou lewe te perkoleer.
Sielskos: Jes 30-33; Luk 2:8-20; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2