Mediteer-perkoleer (2)

2023-01-08
Jesaja 28:13 NLV

Kom ons neem hierdie mediteer-perkoleer idee ‘n stap verder. Miskien sal dit jou help om stadigaan te begin mediteer sonder om oorweldig te voel deur die gedagte dat jy nie die tyd of dissipline het om dit te doen nie. Dis nie ‘n alles-of-niks uitdaging nie. Neem klein treetjies. As jy slegs tien minute het, gebruik dit ten volle. Jy hoef nie tien hoofstukke in jou Bybel te lees nie. Jy is nie besig om ‘n opstel vir skool te skryf nie en jy gaan nie ‘n toets daaroor skryf nie.

Lees hierdie vers wat jou sal help: ‘Daarom gaan die Here weer met hulle praat. Hy gaan sê: Maak sus en maak so, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie!..’ (vers 13 NLV). God se Woord is so ryk aan waarhede dat jy een frase of idee kan neem en dit in jou gedagtes kan laat perkoleer, of jy nou tien minute of twee ure het.

In plaas daarvan om televisie te kyk of aanhoudend te kyk of jy boodskappe op jou selfoon het, sit eenvoudig net stil, drink jou koffie of tee en laat God se inwonende Gees toe om sy Woord te interpreteer, te vergroot en te verryk soos dit oor en oor in jou gedagtes maal. Dink daaroor terwyl jy bestuur, of tydens jou middagete of teetyd.

Sommige dae sal dit voel of jy geestelik gesproke die boerpot gewen het; ander dae sal jy voel dat jy net ‘n klein bietjie tot jou basiese kennis van die Bybel toegevoeg het. Konsekwentheid is die sleutel. Doen dit ‘n jaar lank en jy sal 365 Skriftuurlike insigte hê om jou te help soos nodig. Kan jy insien hoe dit jou lewe ten goede kan verander?

Sielskos: Pred 11:7-12:1; Hand 9:1-25