Dink hierdie jaar: ‘Dis moontlik’ (1)
2023-01-03Matteus 19:26 NLV
Lees die volgende twee Skrifgedeeltes: ‘…Maar by God is alles moontlik!’ (Matteus 19:26 NLV). ‘As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke verrig’ (Matteus 13:58 NLV).
Hierdie twee verse beteken die volgende: Baie dinge wat moontlik is word as gevolg van twyfel en ongeloof nooit ‘n realiteit nie. As God se Woord sê dat jy sukses kan behaal, maar jy is besig om te misluk, mag dit dalk die volgende beteken: Jy glo nie regtig wat Hy sê nie, of jy is nie gewillig om jou deel te doen nie. Wanneer jy dink: ‘Dis moontlik,’ verhoog dit jou energievlak. Niemand pak ‘n saak aan wat hulle weet reeds verlore is nie. Jy belê slegs in dit wat jy glo kan slaag. Wanneer jy dus dink: ‘Dis moontlik,’ en God vir sukses vertrou, word jou geloof die krag wat jou energie gee.
Sommige mense dink dis naïef of dwaas om so te wees. As jy een van hulle is, antwoord dan die volgende vraag: Hoeveel hoogs suksesvolle mense ken jy wat voortdurend negatief is en glo dat die meeste dinge onmoontlik is? Geen! Die eerste stap om te dink ‘Dis moontlik,’ is om jouself daarvan te weerhou om dit wat verkeerd is in elke situasie te soek en daaroor te tob.
Mense met die uitgangspunt dat dit nie moontlik is nie het twee keuses: hulle kan die ergste verwag en dit aanhoudend ervaar, of hulle kan hulle denke verander. Jy kan dit doen deur eerstens die negatiewe denke wat jy in jou gedagtes hoor nog voor jy jou mond oopgemaak het, te elimineer. ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Om ‘Dis moontlik’ te dink, moet jy dit ook glo en spreek.
Sielskos: Jes 2-3; Luk 1:5-10; Ps 90:1-6; Spr 1:3-4