Hy het sy kosbaarste besitting gegee

2022-12-22
2 Korintiërs 9:15 NLV

Een middag het ‘n dogtertjie buite Pete Richardson se antiekwinkel gestaan en die skatte in die venster bestudeer. Toe het sy ingegaan en gevra om ‘n string blou krale te sien. Toe Pete dit op die toonbank neersit, het sy gesê: ‘Dis perfek. Sal Oom dit asseblief toedraai? Dis vir my suster. Sy sorg vir my. Dit sal ons eerste Kersfees wees vandat Mamma oorlede is en ek soek al lank na die perfekte geskenk vir haar.’ ‘Hoeveel geld het jy?’ het Pete versigtig gevra. Sy het ‘n klomp munte op die toonbank uitgegooi en gesê: ‘Ek het my spaarvarkie leeggemaak.’ Pete het die halssnoer opgetel, met die prys na hom toe gedraai. ‘Wat is jou naam?’ het hy gevra. ‘Jean Grace,’ het sy geantwoord. Pete het die krale mooi toegedraai, die dogtertjie het hom bedank en sy winkel verlaat.

Op Oukersaand, toe die laaste klant weg is en hy besig was om die winkel te sluit, het ‘n jong vrou die winkel binnegehardloop en ‘n bekende pakkie vir hom gegee. ‘Kan jy onthou aan wie jy hierdie verkoop het?’ het sy gevra. “‘n Dogtertjie genaamd Jean het dit vir haar ousus gekoop.” ‘Hoeveel is die halssnoer werd?’ het sy gevra. ‘Die prys,’ het Pete geantwoord, ‘is altyd vertroulik tussen die verkoper en sy kliënt.’ Haar suster het gevra: ‘Maar hoe het sy daarvoor betaal?’ Pete het die pakkie versigtig weer toegemaak, vir haar teruggegee en gesê: ‘Sy het die grootste prys wat mens kan betaal, gegee. Sy het alles wat sy het, gegee.’

Toe God sy Seun gestuur het om ons te verlos (sien Galasiërs 4:4 NLV), het Hy alles gegee wat Hy gehad het. ‘Dank aan God vir sy onbeskryflike gawe!’

Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:1-16; Ps 12; Spr 31:1-5