Jy moet jou seisoen ken

2022-12-02
Prediker 3:1 NLV

Wanneer God vir jou ‘n visie gee moet jy voorbereid wees om ‘n paar trane te stort, omdat elke visie teen ‘n prys kom. Die pad na oorwinning is vol toetse en beproewings. Niemand word daarvan kwytgeskeld nie. God het egter belowe dat daar ‘n oes sal wees: ‘Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak dra, sal sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra’ (Psalm 126:5-6 NLV).

Die Skrif leer ons twee dinge: 1) Daar is ‘n tyd om te huil. Dit is nie ‘n verskoning vir passiwiteit, of ‘n houding van swakheid wat jou tot trane reduseer omdat die lewe nie regverdig is en dinge moeilik is, nie. Nehemia is tot trane deur die puinhoop van Jerusalem gedryf. Toe het hy egter ‘n plan ontwikkel, ‘n span bymekaar gekry en dit herbou. Waaroor voel jy passievol? Wat dryf jou?

2) Daar is ‘n tyd om te oes. Alles in die lewe het ‘n rede en ‘n seisoen (sien Prediker 3:1-8). Wanneer jy die rede verstaan en die meeste uit die seisoen put, word jy ‘…soos bome geplant langs ‘n rivier, wat vrugte dra op die regte tyd…’ (Psalm 1:3 NLV). Let die woorde: ‘op die regte tyd,’. Vrugte sal nie voor hul tyd groei nie. Dis hoekom jy onderskeid tussen jou lewe se veranderende seisoene moet tref en by hulle moet aanpas.

Dis veral waar wanneer dit oestyd is. Jy moet weet wanneer jy moet ophou huil en begin oes; anders sal jy die oes misloop. Trane is vir die saaier, maar vreugde is vir die maaier. Wanneer jou seisoen dus begin verander, oes jou lande met vreugde. Jy het jou ledegeld betaal; nou is dit tyd om dit wat God vir jou beloof het, te geniet.

Sielskos: 2 Kron 32-34; Joh 12:37-50; Ps 146; Spr 28:9-12