Hulp vir jou huwelik
2022-10-26Psalm 127:1 NLV
Niemand weet meer van die huwelik as God nie. Sy Woord sê: ‘As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs…’ Kom ons kyk dus na sy Woord en sien watter tipe raad Hy vir jou huwelik het:
1) Wees gewillig om raad te aanvaar. Salomo sê: ‘Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Hulle wat na ander luister, het wysheid’ (Spreuke 13:10 NLV). Voor die argument dus in ‘n krisis ontaard, vra ‘n vriend wat jy vertrou of ‘n berader vir hulle insette. Dit verg nederigheid, maar betaal groot dividende.
2) Moenie ophou praat nie. Selfs as iets vir jou voor-die-hand-liggend lyk, moenie aanvaar dat jou maat jou gedagtes kan lees nie. Moet ook nie stilstuipe kry nie. Sê vir jou man of vrou wat jou pla, selfs al beteken dit julle moet deur ‘n meningsverskil werk. Dis wanneer jy nie genoeg omgee om van jou maat te verskil nie, dat dinge uitmekaar val.
3) Hou jou liefde lewendig. Om ‘n sterk huwelik te bou, beteken dat jy oor en oor en oor op dieselfde persoon verlief moet raak. Paulus skryf: ‘Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel’ (Filippense 1:9 NLV).
Dis onmoontlik om van huwelikstres te ontsnap, maar jy kan dit beheer deur geleenthede weg van die daaglikse sleur te skeduleer. Gaan stap saam, kyk ‘n fliek saam, gaan drink koffie, doen iets wat julle weer bymekaar uitbring. Laat jou kinders ook weet dat julle tyd neem om saam te wees. Nie net sal hulle leer om dit te waardeer nie, dit sal hulle ook help om later ‘n goeie huwelik van hul eie te bou.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 6:16-24; Ps 85; Spr 24:11-14