Plaas ‘n wag voor jou mond
2022-07-261 Timoteus 5:13 NLV
Die Bybel sê dat skinder niks anders is as om jouself ‘te bemoei met ander mense se besigheid,’ nie. Jon Zens sê: ‘Ek het al gesien hoe vriende en families ongekende pyn as gevolg van skinderstories ervaar – die informasie wat iemand sonder jou toestemming of die betrokke persoon se toestemming op jou afpak. Dit kan waar, gedeeltelik waar of heeltemal vals wees. Dit kan deur goeie bedoelings gemotiveer wees, maar dit behels altyd negatiewe informasie en kleur mense se persepsies van iemand onregverdig in. Die persoon wat afgebreek word, word nie betrek nie, omdat skinderbekke dit gewoonlik vermy om direk met die een wat hulle besig is om te verneder, te praat.’
Stel dus vandag die standaard vir jou eie lewe deur mense op jou ervaring van hulle, en nie op wat iemand anders van hulle sê nie, te evalueer. Tweedehandse informasie is berug daarvoor dat dit onbetroubaar en misleidend is en dit oortree Christus se opdrag om ‘…aan ander mense [te] doen soos julle wil hê ander mense moet aan julle doen…’ (Matteus 7:12 ABA).
As jy al vantevore deur skinderpraatjies seergemaak is, kan jy aanklank by die wysheid van hierdie woorde vind. Gerugte en skimpe mag dalk onskuldig lyk en subtiel oorvertel word, maar selfs al tree iemand nie kwaadwillig op nie, is dit steeds verkeerd. Om skinderstories te versprei, oortree jy die opdrag om in liefde te wandel en vir die beste in ander mense uit te kyk (sien 1 Korintiërs 13:7).
A.W. Tozer het gesê: ‘Moet nooit iets oorvertel wat iemand kan seermaak nie. ‘…Sulke liefde maak baie sondes toe’ (1 Petrus 4:8 NLV), en die skinderbek het geen plek in God se guns nie. As jy iets weet wat een van God se kinders kan seermaak, neem dit en begrawe dit. God sal vir die res sorg.’
Sielskos: Hand 16-17; Matt 27:45-56; Ps 1; Spr 16:10-15