Gee alles wat jy het!

2022-07-25
Lukas 6:13,15 DB

Toe die Ohio State Buckeyes en die Universiteit van Michigan Wolverines in 1968 teen mekaar in die voetbalkampioenskappe te staan gekom het, het Ohio hul aartsvyande met 50-14 verslaan. Die wedstryd sal lank onthou word as gevolg van wat minute voor die einde gebeur het. Met ‘n groot voorsprong van 44-14, het die Buckeyes heldhaftig deurgedruk om ‘n laaste raakvat te wen. In plaas daarvan om die normale eenpunt-omskakeling te kies, het die legendariese Woody Hayes onsuksesvol op ‘n tweepunt-omskakeling aangedring. Na die wedstryd, toe hy deur die pers gevra is hoekom hy twee punte gekies het toe die wedstryd reeds gewen was, het Hayes geantwoord: ‘Omdat ek nie vir drie kon gaan nie!’ Om alles te gee lei tot oorwinning, nie nederlaag nie; tot tevredenheid en nie spyt nie.

Entoesiasme is die kern van elke waardevolle prestasie. Paulus skryf: ‘Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is…’ (Galasiërs 4:18 DB). Een van die dissipels was bekend vir sy entoesiasme en is ‘ywerige Simon’ genoem. Voor sy bekering het Simon aan ‘n militante nasionalistiese party behoort wat hom tot die Joodse bevryding van Rome verbind het. Deur genade het Simon, die politieke yweraar, egter ‘n geestelike vuurwapen geword wie se passie na die evangelie van Christus en sy koninkryk, gekanaliseer is.

Christelike entoesiasme is Godgeïnspireerde passie, wat deur die Heerlikheid van God gedryf word, deur die Woord van God gerig word, wat aan die Seun van God gewy word en wat van die Gees van God afkomstig is. Wanneer dit daarby kom om Christus lief te hê en te dien, moet jy alles gee wat jy het! Strewe daarna om vandag, soos Simon, as die ‘ywerige een’ bekend te staan.

Sielskos: Hand 14-15; Matt 27:33-44; Ps 65; Spr 16:8-9