Wees wie God jou gemaak het om te wees!
2021-05-271 Korintiërs 15:10 NLV
Het jy die verhaal gehoor van die vrou wat ‘n hartaanval gehad het en dringend hospitaal toe is? Op die operasietafel het haar hart gaan staan, waartydens sy God gesien het en Hom gevra het of haar lewe verby was. ‘Nee,’ het God geantwoord. ‘Jy het nog drie-en-veertig jaar, twee maande en agt dae oor om te leef.’ Die vrou was so in haar skik dat sy besluit het om in die hospitaal te bly en plastiese chirurgie op haar gesig en lyf te kry. Sy het selfs ‘n stilis laat kom om haar haarkleur te verander, met die gedagte dat omdat sy soveel tyd oor het, sy die meeste daarvan moet maak. Nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, is sy egter deur ‘n ambulans omgery toe sy oor die pad stap. Terug in God se teenwoordigheid, het sy woedend gevra: ‘Ek dog U sê ek het nog meer as veertig jaar oor om te lewe!’ God het geantwoord: ‘Jammer, ek het jou nie herken nie.’
Op ‘n ernstiger noot, sal God jou help om die beste te wees wat jy kan wees, maar Hy sal jou nie help om iets te word wat Hy nooit vir jou bedoel het om te wees nie. Aanvaar dus jouself, wees lief vir jouself en geniet dit om die beste weergawe van jouself te wees. Die Engelse teoloog Julius Hare het gesê: ‘Wees wie jy is. Dis die eerste stap om beter te word as wat jy is.’
Daar is niks meer uitputtend en frustrerend as om jou lewe as iemand wat jy nie is nie, te probeer lei. Wees dus vandag wie God jou gemaak het om te wees! Staan op en verklaar die volgende saam met die apostel Paulus: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is.’
Sielskos: 1 Kon 14-15; Mark 12:1-12; Ps 101; Spr 12:12-13