Wat is jou visie?

2021-01-29
Esegiël 8:4 NLV

Wanneer God vir jou ‘n visie gee, sal dit jou lewe verander. John Sculley, die voormalige president van PepsiCo en Apple rekenaars, het gesê: ‘Die toekoms behoort aan diegene wat die moontlikhede sien, voordat dit ooglopend raak.’ Die Bybel sê vir ons dat God: ‘…dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is’ (Romeine 4:17 NLV).

Visie steek die vuur binne-in jou aan die brand en dryf jou vorentoe. As dit wat jy in die lewe najaag nie vanuit ‘n brandende begeerte in jou kom nie, sal jy dit nie kan bereik nie. Hoekom nie? Omdat jy langs die pad struikelblokke, teenstand, padblokkades en weerstand sal moet oorkom.

Ester se visie het beteken dat sy haar lewe in gevaar moes stel om die Joodse volk van uitwissing te red. Sy het gesê: ‘…As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf’ (Ester 4:16 NLV). Het sy gesterf? Nee, maar sy was gewillig om te sterf. Is jy? Om jou visie te vervul, moet jy twee dinge doen:

1) Jouself meet. As jy voorheen oor jou lewensvisie gedink het en dit duidelik geartikuleer het, meet hoe goed jy dit uitdra. Praat met diegene wat jy vertrou en vra hulle wat hulle dink jou visie is. As hulle dit kan artikuleer, dan is jy heel waarskynlik besig om dit te leef.

2) Dit neerskryf. ‘…Skryf… die visioen in groot, duidelike letters… sodat iemand wat verbyhardloop, dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Deur dit neer te skryf, kry jy klarigheid in jou gedagtes. Wanneer jou visie neergeskryf is, word dit ‘n padkaart na jou bestemming toe. Raadpleeg dit dikwels en jaag dit met alles binne-in jou na. As jy dit doen, is die kans goed dat jy die vervulling daarvan in jou lewe sal sien.

Sielskos: Jes 38-41; Matt 11:1-9; Ps 107:10-16; Spr 3:19-20