Dink realisties (2)

2021-01-28
Spreuke 22:3 NLV

Hier is drie dinge wat realistiese denke vir jou sal doen:

1) Dit sal jou ‘n sin van sekuriteit gee. Wanneer jy gedink het aan die ergste wat kan gebeur en ‘n gebeurlikheidsplan daarvoor opgestel het, voel jy meer gemaklik en vol vertroue. Dis gerusstellend om te weet dat jy nie maklik verras sal word nie. Teleurstelling is die verskil tussen verwagtinge en die realiteit. Wanneer jy realisties dink, verminder jy die verskil tussen die twee.

2) Dit sal jou geloofwaardigheid gee. Leiers wat aanhoudend deur die onverwagte verras word, verloor vinnig geloofwaardigheid in hul volgelinge se oë. Leiers wat realisties dink en daarvolgens beplan, posisioneer hulself om te wen. Dit gee hul volgelinge vertroue in hulle. Voordat jy dus enigiemand uitnooi om deel van jou visie of projek te wees, moet jy jouself die volgende afvra: a) Is dit moontlik? b) Het ek die voordele en nadele van die projek geïdentifiseer en dit verduidelik? c) Het ek ‘n vaste fondasie om op te bou? Thomas Edison het opgemerk: ‘Die waarde van ‘n goeie idee lê in die gebruik daarvan.’

3) Dit sal jou help om ‘n idee bruikbaar te maak deur die ‘wens faktor’ uit die weg te ruim. Die meeste idees en pogings bereik nie hul bedoelde resultate nie, omdat ons te veel op dit wat ons wens, en nie op dit wat is nie, staatmaak. Jy kan nie ‘n huis in die lug bou nie; dit benodig ‘n soliede fondasie. Idees en planne is dieselfde. Hulle het iets konkreet nodig om op te bou en realistiese denke voorsien daardie soliede fondasie.

Salomo het dit so gestel: ‘Iemand wat verstandig is, sien wanneer onheil kom en vermy dit. Die onervare mens loop oopoë daarin vas en boet daarvoor.’ Die woord vir jou vandag is dus – dink realisties.

Sielskos: Jes 34-37; Matt 10:32-42; Ps 107:1-9; Spr 3:13-18