Dink realisties (1)

2021-01-27
Lukas 14:28 NLV

Realiteit is die verskil tussen dit waarvoor jy wens – en dit wat is. As jy van nature ‘n optimistiese persoon is, mag jy dit moeilik vind om realisties te dink. Jy mag inderwaarheid dink dat dit die teenoorgestelde van geloof is. Nee, geloof ontken nie die probleem nie, dit konnekteer jou met God deur wie se krag jy dit kan oorkom. Hier is twee dinge wat realistiese denke vir jou sal doen:

1) Onnodige risiko’s minimaliseer. Alle aksies het gevolge. Realistiese denke kan jou help om te bepaal wat daardie gevolge mag wees. Dis veral belangrik wanneer jou aksies ander mense affekteer. Die ou gesegde: ‘Verwag die beste maar beplan vir die ergste,’ het waarde. Deur so te dink, minimaliseer jy onnodige risiko’s. Dit gee jou ‘n doelwit, met ‘n plan om dit te bereik. Hier is die goeie nuus: Jy het ‘n sin van hoop nodig om sukses te behaal. Hier is die slegte nuus: Hoop is nie ‘n strategie nie.

2) Jou wys wat verander moet word. Mense wat alleenlik op hoop vir hulle sukses vertrou, maak selde verandering ‘n hoë prioriteit. As jy slegs hoop het, impliseer jy dat sukses uit jou hande is. Dis ‘n saak van kanse en geluk – hoekom sal jy dus verander? Daar is niks soos realiteit wat jou in die gesig staar, wat jou help sien wat verander moet word nie. Verandering alleen bring nie groei mee nie, maar jy kan nie groei sonder verandering nie.

Om Christus te volg is die mees geseënde en vreugdevolle lewe wat jy kan lei, maar daar is ‘n prys aan verbonde. Jesus was realisties daaroor: ‘En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie. Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie…’ (verse 27-28 NLV).

Sielskos: Jes 30-33; Matt 10:21-31; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12