God het vir jou gawes gegee (3)
2021-01-231 Korintiërs 12:14 NLV
Net soos jy nie die kleur van jou oë kan bepaal nie, kan jy nie jou geestelike gawes bepaal nie. Die Heilige Gees gee vir ons sy gawes ‘soos Hy dit goedvind’ (vers 11 NLV). Let drie dinge op:
1) Ons is verskillend van mekaar. ‘Ja, die liggaam bestaan nie net uit een lid nie, maar uit baie’ (vers 12 NLV). Hoekom is daar verskillende gawes? Omdat daar verskillende behoeftes is!
2) Ons is afhanklik van mekaar. Al die dele moet saamwerk voordat daar ‘n gesonde liggaam kan wees wat behoorlik funksioneer. Paulus skryf: ‘Die oog kan nie vir die hand sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom’ nie’ (vers 21 NLV). Nie net is elke lid van die liggaam ewe nodig nie, hulle is ook ewe belangrik. Sommige van ons is verbaal sterk en ander is stil. Sommige is dinamies en ander is rustig. Sommige is leiers en ander volgelinge. Dit maak nie saak wie die krediet kry nie, solank as wat die werk gedoen word en God die glorie kry.
3) Ons moet aan mekaar toegewyd wees. ‘…God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry. Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar. As een lid swaarkry, kry al die lede saam swaar, en as een lid vereer word, juig al die lede saam. Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ‘n noodsaaklike liggaamsdeel’ (verse 24-27 NLV).
Sielskos: Jes 17-21; Matt 9:27-38; Ps 96; Spr 3:5-6