Vermy ongesonde fokus op jouself (5)

2020-11-27
Jesaja 58:5 NLV

God het jou nooit beveel om jou emosies, ervarings of sondes te ondersoek nie. Wat Hy wel gesê het, is: ‘…Kyk, daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem’ (Johannes 1:29 NLV). Oorwinning oor sonde vind plaas deur op Christus te fokus – nie deur jouself te stenig nie!

In die Ou Testament het die Israeliete ‘n plek van wanhoop bereik. Hulle het gevas en hulle siele verootmoedig, maar tog het God dit verwerp en gesê: ‘Is dit die vas wat Ek verkies, net ‘n dag waarop ‘n mens homself verneder? Is dit om net jou kop te buig soos ‘n biesie en te sit in sak en as?..’ Dis duidelik dat God nie tevrede is met die ellende wat self-fokus meebring nie!

Hy het ‘n meer effektiewe manier om ons te bevry. Eerder as om ons die las van berou te laat dra, het Hy gesê: ‘Nee, is die vas wat Ek wil hê, dan nie: om mense wat onregverdig in die tronk is, vry te laat, om… elke juk te breek nie? Is dit nie om jou kos te deel met dié wat honger is… om klere te gee vir mense wat dit nodig het, om nie weg te draai van medemense wat jou hulp nodig het nie?’ (Jesaja 58:6-7 NLV). God se manier beveel jou om heeltemal van jouself te vergeet en by die lewens en behoeftes van ander mense betrokke te raak.

Sy vier-punt plan om jou vlees te oorkom is as volg: 1) Erken sy genade en sien jouself as ‘geregtig’ in Christus. 2) Vestig jou oë op Jesus. 3) Vermy obsessiewe self-fokus. 4) Dien God deur ander mense te dien. Wanneer jy al hierdie dinge doen, ‘…dan sal jou lig skyn in die donkerte… Die Here sal jou altyd lei… en sterk hou…’ (verse 10-11 NLV).

Sielskos: 2 Kro 29-31; Joh 14:1-14; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4