Jy kan nie altyd jou gevoelens vertrou nie

2020-09-17
Jeremia 17:9 NLV

Ons almal ken mense wat dit goed bedoel, maar jy is nooit seker of hulle wel iets sal doen as jy vir hulle vra om dit te doen nie. So gaaf soos wat hulle is, is hulle onbetroubaar. Jou gevoelens is so; baie keer kan jy nie op dit staatmaak nie, omdat dit nie noodwendig die beste vir jou in gedagte het nie. Dit is meer geïnteresseerd daarin om hulle eie sin te kry. Jou gevoelens kan byvoorbeeld opgewonde wees om inkopies te gaan doen, wanneer jy nie geld het om te spandeer nie. Dit verlei ons om kaaskoek te eet wanneer ons ekstra kalorieë probeer vermy. Dit laat ons tot laat televisie kyk, terwyl ons vroeg môre moet opstaan. Ons gevoelens is wisselvallig. Dit verander soos die wind. Tog is dit verbasend hoe baie mag ons hulle in ons lewens gee. As gelowiges, het ons iets wyser en meer betroubaar as ons gevoelens om op staat te maak – die Woord van God. Wanneer ons sterk oor iets voel, is dit nie altyd maklik om te bepaal of ons in ooreenstemming met God daaroor is nie. Jeremia sê vir ons: “Die mens se hart is deur en deur bedrieglik en ongeneeslik. Wie weet regtig hoe sleg dit is? ‘Maar Ek weet! Ek, die Here, deursoek alle harte en geheime motiewe…'” (verse 9-10 NLV). Hy doen dit deur sy Woord: ‘Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop’ (Hebreërs 4:12 NLV). As jy waarlik daarin geïnteresseerd is om bo jou gevoelens uit te styg, sal jy die Woord van God die bepalende faktor in al jou besluite maak.

Sielskos: Eseg 43-45; Luk 22:39-53; Ps 19; Spr 21:3