Probeer om realistiese verwagtinge te hê

2020-09-16
Jakobus 3:2 NLV

Om te probeer beter doen is ‘n goeie ding, maar probeer om realistiese verwagtinge te hê. Alles in die lewe is nie net swart en wit nie, daar is ook grys areas. Alles kan nie die heeltyd perfek wees nie; en alles is nie net altyd sleg nie. Om te besluit om nie ‘n vergadering of sosiale gebeurtenis by te woon net omdat jy vyf minute laat is of n puisie op jou gesig het, of om ‘n hele reis te kanselleer omdat ‘n vlug vertraag is, of om soos ‘n aaklige mens te voel omdat jy een onskuldige fout gemaak het, word soms ‘polarisasie’ genoem. Dit lei tot frustrasie en negatiwiteit. Om vreugde in jou lewe te behou, moet jy aanvaar dat jy nie altyd perfek sal wees nie, en so ook nie die mense en dinge rondom jou nie. Wanneer jy perfeksie van die lewe verwag, verwag jy gewoonlik ook dieselfde van ander mense. Sulke onrealistiese denke veroorsaak nie net groot teleurstelling wanneer daar nie aan jou verwagtinge voldoen word nie, dit plaas ook ondraaglike druk op die mense vir wie jy omgee en kan uiteindelik die verhouding vernietig. Hoekom gee jy nie mense ‘n blaaskans en hou op om dinge wat hulle nie in staat is om vir jou te gee nie, van hulle te verwag? Die apostel Jakobus het gesê dat ons almal baie foute maak. As ons dus almal foute maak – en ons doen – moet jy leer om te ontspan en te aanvaar dat dit deel is van die menslike ervaring. Op watter spesifieke maniere moet jy leer om die ‘onvolmaakte’ areas in jou lewe, of die manier wat iemand anders se onvolmaakte areas jou affekteer, te aanvaar? Voor jy antwoord, onthou die volgende: ‘Die liefde is geduldig en vriendelik…’ (1 Korintiërs 13:4 NLV).

Sielskos: Eseg 40:10-42:20; Luk 22:24-38; Ps 24; Spr 21:1-2