Riglyne vir ouerskap (3)
2020-09-13Spreuke 22:6 NLV
Die Bybel sê: ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Die waarheid is dat terwyl sekere universele beginsels van toepassing op alle kinders is, geen twee kinders dieselfde is nie. Dit sal ‘n fout wees om hulle te behandel asof hulle dieselfde is. Hier is twee van die grootste foute wat jy as ouer kan maak: 1) Probeer om jou kinders in jou ewebeeld na te maak. Net omdat jy ‘n goeie rugbyspeler op skool was, beteken nie dat jou seun in jou voetspore sal wil volg nie. Net omdat jy onderskeidings op skool behaal het, beteken nie dat jou kinders daartoe in staat is nie. Jy moet nooit luiheid aanvaar of beloon nie, maar jy moet aanvaar dat nie alle kinders ewe atleties of intellektueel begaafd is nie. 2) Probeer om jou kinders in dit wat jy wil hê hulle moet wees, te vorm. Moenie jou lewe deur jou kinders probeer herleef nie. Jy het jou kans gehad en net omdat jy nie ‘n professionele atleet kon word nie, beteken nie dat jy jou seun of dogter in daardie rigting moet forseer nie. Die Bybel sê dat jy jou kind moet leer om die regte pad te kies. Daardie pad is nie noodwendig die pad wat jy graag wil hê hulle moet volg nie. Jy moet daarna strewe om jou kinders ‘n gesonde selfbeeld te gee deur hulle te leer om te weet wie hulle is, van hulself te hou en te wees wie hulle is.
Sielskos: Luk 10:38-42; Joh 11:1-44; Joh 12:1-8