Riglyne vir ouerskap (2)
2020-09-12Spreuke 29:17 NLV
Jare gelede het sosioloë en kindersielkundiges ‘n interessante ontdekking gemaak. Kontemporêre denkwyses het aangeneem dat kinders in hulle bewegings beperk sou voel as hulle speelgronde omhein was. Hulle het dus, gebaseer op daardie teorie, die heinings verwyder sodat kinders nie ingehok sou voel nie. Navorsers het egter gevind dat kinders toe meer geïnhibeerd in hulle aktiwiteite geword het. Hulle was geneig om in die middel van die speelgrond saam te drom en het tekens van onsekerheid getoon. Interessant genoeg het die kinders weer met groot entoesiasme en vryheid gespeel toe hulle weer die heinings opgerig het. Watter les kan ons hieruit leer? Ons almal het grense nodig – iets wat die perke van veiligheid en sekuriteit definieer. Die kundiges het ‘n teorie gehad dat grense kreatiwiteit beperk, maar die kinders op die speelgrond het bewys dat ons ‘n duidelik begrip van dit wat veilig en aanvaarbaar is, nodig het, sodat vindingrykheid kan floreer. Wanneer riglyne duidelik gekommunikeer word en wanneer die nagevolge om dit nie na te kom nie, verstaan word, sal jou kinders floreer en jy as ouer sal beter funksioneer. Daar is ‘n staaltjie van ‘n pa wat vir sy sestien-jarige seun sy eerste kar gegee het. Toe hy die sleutels aan sy seun oorhanding, het hy gesê: ‘Hierdie is ‘n towerkar, seun.’ ‘Regtig?’ het die seun gevra. ‘Ja,’ het sy pa geantwoord. ‘Een verkeersboete – en hy verdwyn!’ Die eerste kar wat jy vir jou kind koop, behoort ook ‘n ‘towerkar’ te wees. God het die reëls vir sukses in die lewe neergelê en Hy beloon diegene wat dit eer. In die woorde van die Skrif: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV).
Sielskos: Eseg 31-33; Luk 21:25-38; Ps 78:40-55; Spr 20:22-24