Riglyne vir ouerskap (1)

2020-09-11
Spreuke 23:13 NLV

Wanneer dit by dissipline kom, moet jou prioriteit nooit jou eie gemak wees nie, maar die siel – die gedagtes, wil en emosies – van jou kind! Dissipline, of die gebrek daaraan, kan ‘n goeie of slegte kettingreaksie aan die gang sit. As jou kinders nie outoriteit in die huis respekteer nie, sal hulle dit nie in die skool, die regering, die kerk of selfs uiteindelik in die hemel, respekteer nie. Dis net ‘n klein stappie verder om teen die ouers wat God hulle gegee het te rebelleer, tot om teen die God wat hulle ouers aan hulle gegee het, te rebelleer. Dissipline moet gouer, eerder as later, plaasvind. Wanneer ‘n kind oud genoeg is om te verstaan wat reg is, maar kies om te doen wat verkeerd is, is daardie kind gereed om gedissiplineer te word. Die Bybel spesifiseer nie ‘n ouderdomsbeperking in die definisie van die woord ‘kind’ nie. Net omdat jou kind oud genoeg is om te bestuur, te skeer en op afsprake te gaan, beteken nie dat hulle nie meer gekorrigeer kan word nie. Hulle mag dalk te oud vir ‘n piets op die boud wees, maar daar is ander, meer effektiewe maniere om ‘n tiener te dissiplineer. As jy Spreuke versigtig lees, sal jy agterkom dat Salomo met ‘n seun praat wat oud genoeg was om by ‘n bende aan te sluit, deur seksuele sonde versoek te word, prostitute te besoek, skuld te maak en dronk te word. Hy het nie noodwendig van graadeentjies gepraat nie. Solank as wat jou kinders onder jou dak woon, val hulle onder jou jurisduksie en jy sal aan God verslag moet doen hoe jy jou outoriteit gebruik het of nie gebruik het nie.

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Luk 21:12-24; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21