Voorwaardelike seën
2020-07-29Deuteronomium 28:1-2 NLV
Baie van God se seëninge kom met voorwaardes. Wanneer jy God se Woord in aksie sit, ontvang jy sy seën. Blinde Bartimeus was besig om te bedel toe Jesus verbygeloop het. Dus het hy uitgeroep: ‘…O Leermeester, dat ek kan sien!’ (Markus 10:51 NLV). Hy het geweet dat God se seën nie outomaties was nie, maar dit was binne sy bereik. In ‘n Peanuts strokiesprent, oefen Charlie Brown sy boogskiet-vaardighede. Hy skiet ‘n pyl na die teiken en verf dan ‘n kolskoot om die pyl, waar dit ookal land. Wanneer Lucy vir Charlie hieroor uitvra, sê hy: ‘Op hierdie manier tref ek altyd die teiken!’ Een skrywer sê: ‘Dis hoe party Christene lewe. Waar die pyle ook al mag land, gee hulle voor dat dit van die begin af die bestemming was.’ Hoe graag wil jy God se seën hê? Hoe toegewyd is jy? Die begeertes wat God in jou gees geplaas het en die doelwitte wat Hy in sy Woord geplaas het sal nie outomaties vervul word nie, maar hulle is wel bereikbaar. Eerstens moet jy ‘n sterk fondasie bou deur in God se Woord gevestig te word. Tweedens moet jy verwag om een tree op ‘n keer vorentoe te beweeg. Resultate sal nie oornag voorkom nie, maar hulle sal kom en jy sal die belonings vir jou toewyding sien. Derdens: Mik hoog, verwag God se beste en wees gewillig om vir Hom jou beste te gee. Petrus sê: ‘God het baie dinge vir julle gedoen, en daarom moet julle hard probeer om nie net te glo in Hom nie, maar ook om goeie dinge vir ander mense te doen en om wyse mense te wees. Julle moenie gou kwaad word nie, julle moet vas glo, julle moet vir God dien, julle moet lief wees vir mekaar…’ (2 Petrus 1:5-7 ABA).
Sielskos: Hand 24-26; Luk 10:1-12; Ps 78:9-16; Spr 16:25