Lewe ‘n lewe van integriteit

2020-07-27
Spreuke 11:3 NLV

Nadat die profeet Samuel Israel vir veertig jaar lank gelei het, het hy nie ‘n afskeidspartytjie of ‘n goue horlosie gekry nie. Hy het iets baie beters in die vorm van hierdie aanprysing gekry: ‘…U het ons nooit op enige manier bedrieg of verdruk nie…’ (1 Samuel 12:4 NLV). Hy het hulle gelei, hulle opdragte gegee en hulle geseën, maar nie een keer het hy van hulle misbruik gemaak nie. Hoe verfrissend! Hoe merkwaardig – veral in vandag se wêreld van besigheid en politiek. Voor jy dus jou doelwitte stel, bepaal eers jou waardes. Waardes is soos skramrelings op die hoofweg; hulle keer dat jy nie van die pad af by die krans afry nie. Hulle bepaal hoe ver jy op twyfelagtige kwessies sal gaan. Die sleutel om ‘n lewe van betekenis en doel te lewe, is om te weet wat saak maak en waaraan jy waarde heg. Vir die meeste van ons is die probleem nie dat ons nie waardes het nie, die probleem is om hulle uit te lewe. Ons almal stel eerlikheid, integriteit en vergifnis hoog aan die prys, maar wanneer ons onder druk verkeer, lewe ons hulle regtig uit – veral ten koste van onsself? Om ‘n lewe van waardes uit te leef, kom met ‘n prys. Wat ons egter in ruil daarvoor kry is die vermoë om ons kop deur die dag hoog te hou en rustig in die nag te slaap. Amper net so belangrik is dat dit ons toelaat om te ontspan en onsself te wees. Die geestelike tol wat dit neem om te kul, te lieg en te steel is dreinerend. Dit kan jou letterlik moeg maak om die leuen van verlede week te onthou sodat jy jou nie vandag weerspreek nie. Wanneer jy ‘n lewe van integriteit leef, hoef jy nie oor sulke dinge bekommerd te wees nie!

Sielskos: Hand 20-21; Luk 9:46-56; Ps 46; Spr 16:20-22