‘n Woord aan die sensitiewes
2020-07-19Matteus 5:10 NLV
Jesus het gesê: ‘Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle verspei word omdat julle my dissipels is. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon…’ (verse 11-12 NLV). As jou vel dun is, sal jy altyd ‘n maklike teiken wees. Volharding, nie populariteit nie, is die geheim tot langtermyn sukses. Paulus het volhard toe sy vriende hom verlaat het, toe hy lelike briewe van die mense uit Korinte ontvang het, toe die Galasiërs hom teleurgestel het, toe die mense in Filippi hom mishandel het en toe hy in Athene bespot is. Hy skryf: ‘Wees op en wakker! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk!’ (1 Korintiërs 16:13 NLV). Kom ons kyk na hierdie vers: 1) Wees op en wakker. Die duiwel is daarop uit om jou waarde vir God se koninkryk te vernietig. Jou lewe is ‘n saad wat ‘n oes vir God op aarde kan meebring, beskerm dus jouself. 2) Staan vas in wat jy glo. Jy kan nie op jou omstandighede of ander mense se opinies staan nie, want dit verander aanhoudend. Jy kan net op God se Woord vas staan. 3) Wees moedig. Onvolwassenheid sal jou seermaak wanneer jy aangeval word. Die Bybel sê: ‘…Kom ons gaan eerder verder en word geestelik volwasse…’ (Hebreërs 6:1 NLV). As jy steeds dieselfde foute twintig jaar later maak, leer jy nie genoeg nie. 4) Wees sterk. Swakheid is ‘n uitnodiging aan die Vyand. God het vir sy mense belowe dat die Beloofde Land hulle s’n was, maar hulle moes daarvoor veg. Net diegene wat gewillig was om daarvoor te veg, het dit binnegegaan. Dieselfde geld vir jou.
Sielskos: Heb 11:8-12; Gen 17:1-27; Gen 22:1-18; Jak 2:21-24