God se oplossing vir depressie


Psalm 43:5 NLV

Daar word geskat dat die gemiddelde dertigjarige vandag tien keer meer as hulle ouers en twintig keer meer as hulle grootouers geneig is om aan depressie te ly. Die meeste van hulle sal egter ook nie hulp daarvoor soek nie, omdat hulle glo dat depressie ‘n persoonlike swakheid is. Kom ons tref egter ‘n belangrike onderskeid. As jy klinies depressief is, kan dit deur ‘n chemiese wanbalans in jou liggaam veroorsaak word en kan ‘n dokter jou help. Ons praat hier van om in ‘n siklus van hartseer en hopeloosheid vasgevang te wees. As dit is waar jy vandag is, het jy wysheid nodig om te herstel. Jou situasie sal nie deur ‘n paar clichés of ‘n opbeurende preek van ‘n vriend opgelos word nie. Wat jy nodig het, is ‘…die wysheid wat van Bo kom…’ (Jakobus 3:17 NLV). Nadat hy vuur uit die hemel afgeroep het, het Elia ‘…toe onder ‘n besembos gaan sit en gebid dat hy liewer moet sterf…’ (1 Konings 19:4 NLV). Gelukkig het hy na die regte bron toe gedraai. ‘… Maar ‘n engel het hom aangeraak en gesê: ‘Staan op en eet!’ (sien 1 Konings 19:3-5 NLV). God sal dalk nie vir jou ‘n engel stuur nie, maar Hy sal jou antwoord, jou oplig en jou herstel. Die Psalmdigter het gevra: ‘Hoekom is ek so neerslagtig? Hoekom so verontrus? Ek sal op God vertrou! Ek sal Hom weer prys, Hy is my redder en my God!’ Met wie het Dawid gepraat? Met homself! Eers het hy met God oor sy probleem gepraat; dis wat jy in gebed doen. Daarna het hy geluister wat God oor sy probleem sê; dis wat jy doen wanneer jy die Skrif lees en dit oor jou lewe spreek. Hierdie strategie werk. Dit het vir Dawid gewerk – en dit sal ook vir jou werk.

Sielskos: Deut 25-27; Matt 13:36-46; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2