Wie weet? God weet!

2018-04-20
Deuteronomium 29:29 NLV

Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). Hierdie Skrifgedeelte is maklik om aan te haal, maar moeilik om volgens te lewe, veral wanneer ons lewens deur tragedie aangeraak word en ons nie die redes daaragter verstaan nie. Daar is tye wat ons bid en God vir ons antwoorde gee en daar is tye wat ons bid en Hy vir ons vrede gee. ‘…Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV). In tye van pyn en verlies, is daar twee Skrifgedeeltes waarop jy kan staan: 1) ‘Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat geopenbaar is, vir ons en ons nageslag…’ Wanneer dit by die verstaan van dinge kom, het ons ons gebied en God het syne. Ons s’n is beperk tot wat Hy besluit Hy aan ons wil openbaar. Paulus, wat die helfte van die Nuwe Testament deur goddelike openbaring geskryf het, erken, ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV). 2) ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Wanneer jy dus in die versoeking kom om jou hande in wanhoop op te gooi en te sê, ‘Wie weet?’ herinner jouself, ‘God weet!’ Herinner jouself vandag daaraan dat Hy dinge ten goede vir jou en vir sy heerlikheid laat uitwerk.

Sielskos: Hand 8-9; Mark 3:28-35; Ps 130; Spr 10:24-26