Wees vandag vriendelik teenoor ander

2022-12-11
Kolossense 3:12 NLV

Wanneer jy in die oggend opstaan, moet jy jouself nie net fisies nie, maar ook geestelik en emosioneel aantrek. Jy moet vir jouself vra: ‘Watter tipe houding gaan ek vandag dra? Sal ek oorheersend wees of saamwerk? Positief of negatief? Bemoedigend of krities? Selfsugtig of dienend?’ Jy sê: ‘Maar wanneer ek vriendelik is, maak mense misbruik van my.’ Ja, soms sal dit gebeur.

Ten spyte van die risiko’s, is daar egter twee redes om vriendelik te wees: 1) ‘Dit is mos [God se] onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het…’ (Efesiërs 2:8 NLV). Genade en vriendelikheid loop altyd hand aan hand! Die digter Robert Burns het gesê dat die vriendelike hart die meeste na God aard.

2) Omdat jy wil hê dat mense vriendelik teenoor jou moet wees en jou goed moet behandel. ‘Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen…’ (Matteus 7:12 NLV). As jy ongeskik is, sal mense ongeskik teenoor jou wees. As jy egter vriendelik is, sal die meeste mense op dieselfde manier reageer. ‘Iemand wat hom beywer vir reg en liefde, ervaar ‘n vol lewe, geregtigheid en eer’ (Spreuke 21:21 NLV).

Hier is nog ‘n rede om vriendelik te wees: “‘n Mens wat vrygewig is, baat self daarby. ‘n Wrede mens vernietig homself” (Spreuke 11:17 NLV). Wanneer jy dus vriendelik teenoor ander mense is, doen jy jouself eintlik ‘n guns. Kom ons lees dit weer: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld’ (Kolossense 3:12 NLV).

Gaan dus uit en probeer om een hele dag so te lewe.

Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3