Wees sensitief teenoor ander mense

2022-12-12
Filippense 2:4 NLV

Dikwels in die huwelik is ons onbewus van ons maat se behoeftes. Ons word gevoelloos. Ons hou op luister. Ons is onbewus van die druk waaronder hulle verkeer. Eenvoudig gestel, is die wortel van baie huweliksprobleme ‘n gebrek aan sensitiwiteit.

Elke mens wat jy teëkom het goedhartigheid nodig. Ons vind ‘n wonderlike voorbeeld van sensitiwiteit in koning Dawid se lewe. Dawid se vriend, Jonatan – Saul se seun – is vermoor. Veilig op die troon al vir etlike jare, het Dawid ‘n seldsame versoek gerig. Hy het gevra of daar enigiemand van Saul se familie oor was wat hy kon help. Hy het Saul se kleinseun – Jonatan se seun – Mefiboset, wat kreupel aan beide voete was, gevind. Toe Dawid hom ontbied het, het Mefiboset seker gedink: ‘Ek gaan vermoor word, omdat ek ‘n lid van die vyand se familie, die voormalige vorstehuis, is.’

Let egter Dawid se woorde op: ‘…Moenie bang wees nie! Ek sal aan jou goeddoen ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet’ (2 Samuel 9:7 NLV). Mefiboset se reaksie is interessant: ‘…Wat is u dienaar dat u so goed is vir ‘n dooie hond soos ek?..’ (vers 8 NLV). Hy het soos ‘n hond gevoel en het verwag om soos een behandel te word. Die punt wat jy egter moet insien is die volgende: Dawid het die tyd geneem, moeite gedoen en was sensitief teenoor Mefiboset se behoeftes.

Een van die gevare van sukses is dat die druk wat daarmee saamgaan, jou onsensitief teenoor ander kan maak. Die vraag is: Teenoor wie moet jy vandag meer sensitief wees?

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 15:18-27; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21