Week jou gedagtes in God se Woord
2020-06-09Psalm 119:11 NLV
Voel jy ontmoedig omdat jy dieselfde sondes oor en oor begaan? Hier is jou antwoord: Week jou gedagtes in God se Woord! Net soos jy ‘n spons in water laat week en dit druppend en vol water is wanneer jy dit uithaal, so moet jy jou gedagtes in die Skrif week totdat dit tot oorlopens toe vol is met God se Woord. Wanneer jy dan versoek word om verkeerd te doen, sal jou reaksie deur die Gees en die Woord bemagtig word. As jy dus moeg en siek daarvoor is om nederlaag op nederlaag te ervaar, kan jy die volgende Skrifgedeeltes gebruik om jou gedagtes te vul en jou heel te maak: ‘Hoe kan ‘n jongmens (of ‘n ouer een!) ‘n skoon lewe lei? Deur gehoorsaam te wees aan u woord’ (vers 9 NLV). ‘Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het’ (Johannes 15:3 NLV). ‘…Deur die water van die Woord was Hy die kerk (en jou) skoon’ (Efesiërs 5:26 NLV). ‘Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as die ontleedmes van ‘n chirurg. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop’ (Hebreërs 4:12 NLV). ‘Toe U gepraat het, het ek mooi geluister. Ek het elke woord ingeneem. U woorde het my bly gemaak. Dit maak my opgewonde om te weet dat ek aan U behoort, o Here God die Almagtige’ (Jeremia 15:16 NLV). Hierdie Skrifgedeeltes lei almal tot een gevolgtrekking: As jy ernstig daaroor is om in oorwinning te stap, moet jy jouself in God se Woord verdiep en God se Woord in jou verdiep. Daar is nie ‘n ander manier nie.
Sielskos: Op 10-14; Mark 14:66-72; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6