Wat dit beteken om ‘lief’ te wees vir iemand

2024-01-11
1 Johannes 4:17 NLV

Die woorde ‘liefde’ beteken in vandag se kultuur verskillende dinge vir verskillende mense. Jy kan vir jou man of vrou, jou hond, jou land, jou nuwe selfoon of jou kar lief wees. Jy is egter nie op dieselfde manier vir jou man of vrou lief as wat jy vir jou selfoon of kar lief is nie, nie waar nie? Die televisie- en poniekoerantliefde waar jy rondval tussen bedmaats en jou liefde aan elkeen verklaar is nie ware liefde nie, dis selfsug en onvolwassenheid.

Die Bybelse woord ‘agape’ (God se liefde) is ‘n onvoorwaardelike toewyding aan liefde wat in ‘n besluit wat onveranderd bly, gewortel is. Dit verander nie, of die liefde wedersyds is of nie. Dis ‘n besluit van jou hart om die goeie in die ander persoon te soek, maak nie saak hoe hulle reageer nie.

Toe die King James Bybelvertalers op die Griekse woord ‘agape’ afgekom het, het hulle benewens die woord ‘liefde,’ dikwels die woord ‘liefdadigheid’ gekies om dit te vertaal. Dit was bedoel om die idee te versterk dat liefde ‘n onbaatsugtige, onvoorwaardelike liefde is. Dit beteken dus vriendelikheid, respek en lojaliteit teenoor jou geliefde. ‘…God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ‘n hegte verhouding met God en God met hulle. Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik… Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hy is’ (verse 16-17 NLV).

Wat ons van die wêreld onderskei is nie ons woorde nie, maar ons liefde vir mekaar. Wanneer ons ons verskille kan oorkom, wanneer ons grense van denominasie, ras en kultuur kan oorsteek en mekaar waarlik lief kan hê, word die wêreld na Christus toe aangetrek en begin dit aandag aan ons woorde gee.

Sielskos: Lev 15-17; Matt 5:1-12; Ps 46; Spr 1:32-33