Wanneer voorbereiding geleentheid ontmoet

2022-02-22
2 Timoteus 4:7 NLV

Seneca die Jonger het gesê: ‘Sukses gebeur wanneer voorbereiding, geleentheid ontmoet.’ Soos jy in die Skrif van die mense wat God gebruik het om groot dinge te bereik, lees, sal jy agterkom dat hulle baie tyd bestee het om vir ‘n relatiewe kort opdrag voor te berei. Die ego in elkeen van ons smag na twee dinge – die kollig en ‘n lang lewe! Vir God maak net een ding egter saak: om sy wil te doen. Wanneer jy soos Paulus kan sê: ‘Ek het die wedloop voltooi,’ het jy suksesvol gelewe.

Vir wie gebruik God dus? Diegene wat voorbereid is! Of jy nou na besigheid, kuns, opvoeding, politiek, die mediese veld of die bediening geroep word, bly hierdie beginsel onveranderd: Die wat voorbereid is, ontvang geleenthede. Disraeli het gesê: ‘Een geheim tot sukses in die lewe is vir ‘n man om gereed te wees wanneer sy tyd kom.’ Dis ook nie genoeg om net eenvoudig voorbereid te word nie, jy moet voorbereid bly. Salomo skryf: ‘Hou vas aan die reëls wat ek jou leer. Moet dit nie laat los nie. Bly daarby, want dit verryk jou lewe’ (Spreuke 4:13 NLV).

Kennis in die meeste velde verdubbel ongeveer elke vyf jaar en tensy jy aanhou groei, sal jy met verouderde vaardighede opeindig wat nie by die uitdagings van die wêreld waarin jy leef, aanpas nie. Wanneer jy glo dat more se sukses van vandag se voorbereiding afhang, sal jy vandag anders sien. Koningin Elizabeth I het na bewering die koninklike geneeshere die helfte van haar boedel aangebied indien hulle haar lewe kon verleng. Hulle kon natuurlik nie. Ons lewens is kort, dis hoekom die Bybel sê: ‘Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom’ (Psalm 90:12 AFR83).

Sielskos: Jes 58-62; Luk 11:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23