Wanneer jy nie seker is nie, vertrou God

2024-09-13
2 Korintiërs 5:7 NLV

Om te leef deur te glo, beteken dat jy geloof in die onveranderende karakter van God, die goedheid van God, die liefde van God en die waarheid dat Hy altyd jou beste belange op die hart dra, het. God deel inligting met jou soos jy dit nodig het. God bepaal ook wat ons nodig het om te weet en wanneer ons dit moet weet. Hier is ‘n voorbeeld daarvan: Die vroeë kerk moes besluit of God hulle roep om ook nie-Jode in te sluit. Na baie gebed, stuur hulle die volgende brief uit: ‘Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie…’ (Handelinge 15:28 NLV).

Alhoewel die kerk nie al die inligting van God tot hul beskikking gehad het nie, het hulle in gebed en deur leiding van die Heilige Gees gemaklik gevoel om hierdie brief uit te stuur. Dit was klaarblyklik God se wil dat sy mense nie presies moes weet wat sy wil is nie, of ten minste nie oor al die detail beskik nie. Hy het vermoedelik geweet dat hulle meer sou groei as hulle die kwessie moes oordink en bespreek, eerder as om ‘n gedetailleerde memo te kry. Die vroëe kerk het nie sekerheid vereis nie. Dit was vir hulle genoeg om met opregte gehoorsaamheid tevrede te wees.

Wanneer Paulus sê dat ons moet leef deur te glo, verwys hy na ‘n proses wat een tree op ‘n slag plaasvind. God het die oorhoofse uitsig; Hy sien jou hele reis van begin tot einde en beplan elke tree. Hy sal vir jou wys wat om te doen en wanneer jy dit gedoen het, sal Hy jou wys wat om volgende te doen.

Sielskos: Neh 1-4; Luk 21:12-24; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28