Wanneer jou kind buite beheer is

2020-06-08
Jesaja 54:13 AFR53

Min dinge kan jou hart so breek soos ‘n kind wat op dwelms is, of met die verkeerde vriende meng en by aktiwiteite wat hulle lewens kan vernietig, betrokke raak. Wat moet jy as ouer doen? Eerstens, moet jy vir hulle bid en God se beloftes oor hulle uitspreek. Jy mag dalk nie in staat wees om hulle te verander nie, maar God kan. Sy Woord sê: ‘En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.’ Wat as jou kind buite beheer is, maar nog in die ouerhuis bly? Dan het jy ‘n groot uitdaging wat God se hulp benodig. Soms is jou ‘probleemkind,’ ‘n kind met ‘n groot roeping en toekoms en Satan weet dit. God het ‘n roeping op hulle lewe geplaas en dis waaroor die stryd gaan! Jy het as ouer God se wysheid nodig wanneer dit by die volgende kom: 1) Om duidelike grense te stel met gepaste en konsekwente nagevolge. Die Bybel sê: ‘Tug is nodig! As ‘n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede’ (Spreuke 22:15 DB). 2) Om die vrees te oorkom dat jou kind jou sal verwerp wanneer jy ‘n onpopulêre, maar wyse besluit maak. Satan sal jou probeer oortuig dat jy hulle sal verloor wanneer jy hulle dissiplineer. Die waarheid is dat jy hulle sal verloor indien jy hulle nie dissiplineer nie! Onthou: ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Twee van die grootste wapens wat jy kan gebruik om Satan oor jou kind se toekoms te beveg, is gebed en deur vas op God se Woord te staan. As jy getrou aan God bly – sal jy wen.

Sielskos: Op 5-9; Mark 14:53-65; Ps 48; Spr 13:2-3