Waar om aan te klop vir hulp

2018-11-01
Psalm 25:1 NLV

Wanneer jy hulp nodig het, blaai na Psalm 25 en let op wat Dawid gedoen het. 1) Hy het geweet waarheen om te gaan. ‘Ek rig my tot U, Here.’ Onlangs het ‘n leser ons gevra om te bid vir ‘n familielid wat pas met fase vier kanker gediagnoseer is. Hoe vinnig kan ons lewens nie verander nie! Waarheen kan ons in sulke oomblikke draai? Na God toe. Hy word deur baie name in die Skrif geken waarvan een Jehovah-Rapha is – die Here wat genees. Hoe wonderlik is dit nie! Sy Woord sê, ‘Hy…genees al jou siektes’ (Psalm 103:3 NLV). By God is geen siekte ongeneeslik nie, wat beteken dat jy vandag in vertroue na Hom toe kan gaan. 2) Hy het geweet Wie om te vertrou. ‘Ek vertrou op U, my God!..’ (Psalm 25:2 NLV). ‘n Man of vrou sonder God moet self die rol van God in sy of haar lewe vervul. Dit mag dalk doenbaar in die goeie tye wees, maar wat van kwaadaardige selle, foutiewe hartkloppe, afdankings by die werk of finansiële probleme? Na wie toe draai jy dan? ‘Ek rig my tot U, Here.’ 3) Hy het geweet hoe om te bid: ‘Wys my, leer my, lei my.’ ‘Here, wys my die weg… leer my u paaie. Lei my deur u waarheid… want U, o God is my redder…’ (verse 4-5 NLV). Die teoloog, Richard Foster, sê, ‘Om te bid is om te verander. Dit is die sentrale manier wat God gebruik om ons te transformeer. As ons nie gewillig is om te verander nie, sal ons gebed gou prysgee.’ Het jy daaroor gebid? Indien nie, gaan dadelik in God se teenwoordigheid in. Dis waar jy die hulp sal kry wat jy nodig het.

Sielskos: Jes 30-33; Joh 7:14-24; Ps 104:1-23; Spr 28:5-8