Waak teen verkeerde gedagtes
2019-02-26Spreuke 4:23 NLV
Wanneer Satan besluit om jou te vernietig, begin hy deur verkeerde gedagtes in jou kop te plant. Jesus het dit geïllustreer toe Hy gesê het: ‘Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:27-28 NLV). Voor jy in realiteit aan sonde toegee, vermaak jy dit eers as ‘n fantasie in jou gedagtes. Bose gedagtes is nie regtig joune nie, tensy jy hulle toelaat om spreekwoordelik in te trek en die meubels te begin rondskuif. As jy hierdie gedagtes toelaat om ongehinderd rond te maal, kan ‘n gedagte homself aan ‘n voorval in jou verlede of ‘n neiging in die hede vaskleef en homself voed totdat dit soos ‘n gewas is wat binne-in jou groei. Paulus waarsku ons, ‘…neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). Salomo skryf ook, ‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.’ Moenie verkeerde gedagtes ‘n pinkie gee nie, want hulle sal die hele hand gryp. Raak van hulle ontslae voor hulle jou verbintenis met Christus verswak en jou spyt laat kry. Oor die algemeen, fokus ons op dit wat ander mense kan sien en inspekteer wanneer ons ons huise skoonmaak. Dink net hoeveel gemors is daar in ons gedagtes, omdat niemand anders ons gedagtes ondersoek nie. God ondersoek dit egter! Dawid het gesê: ‘Here, U deursoek my en ken my’ (Psalm 139:1 NLV). Jy moet die volgende bid: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:15 NLV).
Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19