Vrygespreek – deur geloof (2)
2020-03-24Romeine 4:5 NLV
Daar is net twee maniere hoe jy kan poog om vrygespreek te word. Die eerste een is deur te probeer en die tweede een is deur te vertrou. Wanneer jy probeer om God se goedkeuring deur jou optrede te verdien, kan jy nooit tot rus kom nie, omdat jy nooit seker kan wees dat jy genoeg gedoen het om sy guns te wen nie. Wanneer jy egter jou vertroue in Christus se voltooide werk aan die kruis plaas, sê die Bybel dat jy God se ‘rus’ binnegaan (sien Hebreërs 4:3). Paulus skryf: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Jy hoef nie te sukkel om deur God vrygespreek te word nie. Die oomblik wat jy jou vertroue in Jesus plaas, word jy ‘…op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek…’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Hoekom het Hy dit so gedoen? Omdat enige vryspraak wat jy deur goeie dade en deur die reëls te onderhou probeer verdien, so ver tekort skiet dat Hy dit as ‘vuil klere’ sien (sien Jesaja 64:6). Paulus skryf: “Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word: ‘Gelukkig is daardie mense wie se oortredings nie gestraf word nie en wie se sondes uitgewis word. Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde glad nie meer toereken nie!'” (Romeine 4:6-8 NLV). Edward Mote het hierdie gesang geskryf: ‘Dressed in His righteousness alone, faultless to stand before the throne. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand.’ Wees bly! Dis hoe God jou sien – vrygespreek deur geloof!
Sielskos: Job 18-20; Matt 25:1-13; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21