Volgehoue genade
2021-02-032 Korintiërs 12:9 NLV
Daar is twee tipes genade: 1) Reddende genade. Die oomblik wat jy jou vertroue in Christus plaas, wis God die hele rekord van jou sonde uit. 2) Volgehoue genade. Paulus skryf: “…Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee… Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking'” (verse 7-9 NLV).
Wat ‘n helder beeld! ‘n Doring steek in die sagte vel tot onder die oppervlakte in. Elke tree is ‘n herinnering daaraan: Die kind in die rehabilitasiesentrum. Die rooi ink op die lêer. Die misdaadrekord. Die smagting na alkohol in die middel van die dag. Die trane in die middel van die nag. ‘Here, neem dit weg?’ Jy hoor egter die volgende: ‘My genade is genoeg vir jou.’ Volgehoue genade beloof ons nie die afwesigheid van beproewing nie, maar die versterkende teenwoordigheid van God.
John Newton, die Anglikaanse predikant wat ‘Amazing Grace’ geskryf het, het gevind dat God se genade genoeg is. Op die dag wat sy geliefde vrou, Mary, oorlede is, het hy die krag ontvang om ‘n Sondagpreek te lewer. Die volgende dag het hy kerklede besoek en later haar begrafnis waargeneem. Toe hy terugkyk op daardie tyd, het hy geskryf: ‘Die Bank van Engeland is te arm om vir so ‘n verlies soos myne te vergoed. Maar die Here, algenoegsame God, spreek, en dit word gedaan. Laat hulle wat Hom ken en vertrou, moed skep. Hy kan hulle krag volgens hulle dag gee. Hy kan hulle krag vermeerder soos hulle beproewings vermeerder. Dit wat Hy kan doen, het Hy beloof dat Hy sal doen.’
Sielskos: Jes 53-57; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30