Vier Kersfees! (2)

2021-12-26
Nehemia 8:10 AFR53

Die woord ‘holiday’ kom van die ou Engelse woord ‘haligdæg’ af, wat ‘heilige dag’ beteken. Dus, toe Nehemia verklaar het: ‘…Hierdie dag is heilig…’ het hy verklaar dat dit ‘n feesviering is; hulle het ‘…dié dag geëet en gedrink voor die aangesig van die Here met groot blydskap…’ (1 Kronieke 29:22 AFR53). Deesdae het oormatigheid en oorbesteding sinoniem met Kersfees geword, wat Christene huiwerig maak om dit te vier.

Jack Hayford skryf egter: ‘Dikwels is dit diegene wat onlangs gered is wat hulleself toelaat om – miskien vir die eerste keer – die wonder en volheid van Kersvreugde en vieringe binne te gaan. Kersfees is meer as net vrolikheid. Kersfees is magtig. Feesviering – die ongebonde genieting daarvan, liefde, lag, geskenke en om geskenke te gee, kersbome en versierings, kersliedere en klokke – alles daarvan, het ‘n inherente potensiaal om magtig te wees.

Die enigste faktor wat teenwoordig moet wees, is die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Wanneer Hy teenwoordig is, kan die tradisies van Kersfees mense seën, versterk, genees en herstel. Wanneer Hy afwesig is, klink Kersliedere hol. Kerswense en glimlagte is dan oppervlakkig. Ligte en versierings laat mens verlate voel. Waar die Heilige Gees egter teenwoordig is, is daar mag om verskanste gewoontes te verander, om harte te transformeer, om griewe en verwagtinge te laat gaan en om die skaduwees weg te jaag.

Laat Hom hierdie Kersfees toe om jou te besoek. Verwelkom die Heilige Gees om in jou lewe te beweeg. Veroorloof jouself om verwonderd in die grootsheid daarvan te staan. Reik uit na die mense rondom jou; bemoedig, seën, gee, gaan kuier, nooi uit, deel en hef harte op waar jy ook al gaan. Teen die tyd wat die nuwejaar aanbreek, sal jy agterkom dat Kersfees wonderlik en selfs wonderbaarlik magtig was.’

Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 2:21-38