Vertrou op God se onveranderlike karakter
2018-11-23Job 23:9 NLV
Soms sal jy God se teenwoordigheid nie aanvoel nie. Te midde van moeilike tye, het Job gesê, ‘Maar soek ek in die ooste, kry ek Hom nie. In die weste is Hy ook nie te vind nie. Ek sien Hom nie in die noorde nie, want Hy is onsigbaar. In die suide vind ek Hom nie’ (verse 8-9 NLV). Job het ver van God af gevoel. Ten spyte van sy onvermoë om God aan te voel, het hy egter besluit, ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur, sal Hy my onskuldig verklaar’ (vers 10 NLV). Moeilike dae vereis besluite van geloof. Dawid het gesê, ‘Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou’ (Psalm 56:4 NLV). Wanneer jy nie die weë van God kan verstaan nie, vertrou op die onveranderlike en liefdevolle karakter van God. Gaan deur jou Bybel en maak ‘n lys van God se karaktereienskappe en hou die lys byderhand vir moeilike dae. ‘n Skrywer merk op: “My lys lees as volg: ‘Hy is steeds soewerein. Hy ken steeds my naam. Engele reageer steeds op sy roep. Die harte van regeerders gee steeds aan sy bevele toe. Die dood van Jesus red steeds siele. Die gees van God woon steeds in heiliges. Die hemel is steeds net ‘n hartklop weg. Die graf is steeds net ‘n tydelike tuiste. God is steeds getrou. Hy word nie onkant betrap nie. Hy gebruik alles tot sy eer en ten goede van my. Hy gebruik tragedie om sy wil te bereik; en sy wil is reg, heilig en perfek. Hartseer mag dalk saam met die nag kom, maar vreugde kom saam met die môre.'” In tye wat verander, staan met vertroue op die onveranderlike karakter van God.
Sielskos: Gen 4-6; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 30:21-23