Vertrou jou voorstaander, nie jou aanklaer nie (2)

2018-05-08
Romeine 8:33 NLV

Paulus skryf: ‘Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit’ (verse 33-34 NLV). Satan se aanklagte sputter en val soos ‘n ballon wat afblaas. Hoekom hoor ons hulle dan nog? Hoekom voel ons as Christene steeds skuldig? Nie alle skuldgevoelens is sleg nie. God gebruik toepaslike dosisse skuld om sonde vir ons uit te wys. Ons weet dat skuldgevoelens van God af kom wanneer dit ‘…die verantwoording, dringendheid om reg te maak, ontsag… en erns om die oortreder te straf…’ (2 Korintiërs 7:11 NLV) meebring. God se skuldgevoelens bring net genoeg spyt mee om ons te verander. Satan se skuldgevoelens bring genoeg spyt mee om ons tot slaaf te maak. Moenie dat hy sy boeie om jou sluit nie! Onthou: ‘…julle lewe is saam met [Christus] veilig by God weggesteek’ (Kolossense 3:3 NLV). Wanneer God na jou kyk, sien Hy eerste vir Jesus. In Chinees is die woord vir geregverdig ‘n kombinasie van twee karakters: die figuur van ‘n lam en ‘n persoon. Die lam is bo-op en bedek die persoon. Wanneer God na jou kyk, is dit wat Hy sien: die perfekte Lam van God wat jou bedek. Net een keer in die Skrif word melding gemaak dat Jesus iets skryf. Hy skryf in die sand om vir die aangeklaagde sondaar wat Hy pas vergewe het, te sê, ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (sien Johannes 8:10-11). Die woord vir jou vandag is dus: Vertrou jou voorstaander, nie jou aanklaer nie!

Sielskos: Deut 14-17; Mark 7:1-13; Ps 37:25-31; Spr 12:1-3