Verstaan ons Hemelse Vader (2)
2019-10-25Psalm 103:13 DB
As jy steeds die letsels van ‘n slegte kindertyd saam met jou dra, kan dit moeilik wees om God as jou liefdevolle Vader te sien. So baie behoeftes waaraan nie in jou kindertyd voldoen is nie – liefde, sekuriteit, vertroue, vertroosting, koestering en materiële benodighede – kan dit moeilik maak om te glo dat God nou in jou behoeftes sal voorsien. Wat staan jou dus te doen? Erken dat jou interne beeld van ‘n vader verwronge is en op geen manier van toepassing op jou hemelse Vader is nie. Selfs die beste pa is net ‘n vae afbeelding van jou hemelse Vader. God wil hê dat jy Hom as ‘n sorgsame, sensitiewe, vrygewige en standvastige Vader moet sien. Dis hoekom Jesus ons geleer het om Hom ‘Ons Vader’ in plaas van ‘Almagtige God en Here’ te noem. Dit is ook hoekom Hy God ‘jou Vader’ en nie net ‘My Vader’ genoem het nie. Soos ‘n goeie vader, het God jou elke behoefte voorsien en daaraan voldoen (sien Matteus 6:25-34). Net soos ‘n goeie ouer die individuele eienskappe van sy kinders verstaan, so ken jou hemelse Vader jou unieke behoeftes, gedagtes en gevoelens. ‘Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is’ (Psalm 103:13-14 DB). Sy versorging is nommerpas gemaak vir jou spesifieke behoeftes en beperkinge. Net soos ‘n goeie aardse vader die verantwoordelikheid aanvaar om vir sy kinders te sorg, hou jou hemelse Vader Homself verantwoordelik om aan jou behoeftes te voldoen; en Hy wil hê dat jy daarvolgens moet optree deur Hom te vertrou. Met ander woorde, jou rol is om soos die kind van ‘n betroubare, vrygewige, liefdevolle Vader op te tree.
Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27