Vermy ‘n ongesonde fokus op jouself (1)

2020-11-23
2 Korintiërs 13:5 NLV

Dis nie noodwendig sleg om op jouself te fokus nie, mits dit tot geestelike groei lei. Sommige mense neem egter verkeerdelik aan dat dit ‘n Bybelse mandaat is! Het God ons nie immers beveel om onsself te ondersoek nie? Met dit in gedagte begin ons wonder – ‘Is ek geestelik genoeg? Het ek waarlik berou oor my sondes? Bid ek genoeg? Is God tevrede met my?’ Die waarheid is dat wanneer jy op jouself fokus, dit jou mismoedig en oorwonne kan laat voel.

Kom ons kyk wat God regtig sê. Daar is net twee gevalle waar selfondersoek in die Bybel genoem word en nie een van die twee leer ons om op onsself te fokus nie.

Eerstens, het Paulus die Korintiërs aangespreek omdat hulle groot sonde in hulle kerk toegelaat het. ‘n Man het ‘n verhouding met sy stiefma gehad en niemand was daaroor ontsteld nie. Omdat hulle nie berou oor hulle onreinheid, seksuele vergrype en losbandigheid gehad het nie (sien 2 Korintiërs 12:21), het Paulus geskryf: ‘Ondersoek julleself of julle in ‘n egte geloofsverhouding met Christus staan…’ Dis nie ‘n uitnodiging om op jouself te fokus nie, maar ‘n geestelike ondersoek.

Tweedens, het Paulus die Korintiërs se gedrag gedurende die nagmaal gekorrigeer. Omdat sommige van hulle van die nagmaalwyn dronk geraak het, het hy gesê: ‘Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink’ (1 Korintiërs 11:28 NLV). Paulus bedoel nie dat jy op jou foute moet fikseer nie, maar op die bevrydende waarheid dat Jesus die prys vir al jou sonde betaal het – in die verlede, die hede en die toekoms.

Groei, vreugde en oorwinning lê daarin om ‘n ongesonde fokus op jouself agter te laat en op Christus gefokus te bly!

Sielskos: 2 Kro 16-18; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16