Vergewe ander mense (2)

2022-02-26
Jeremia 31:18 NLV

Die Bybel sê vir ons: “[Isak] het die putte wat sy pa gegrawe het… weer oopgegrawe… Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. ‘Dis ons water,’ het hulle gesê… Hy het weer verskuif en nog ‘n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, ‘want,’ het hy gesê, ‘uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees'” (Genesis 26:18-22 NLV).

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van vergifnis wat beoefen word. Gedurende ‘n droogte het Isak putte grawe, maar sy vyande het inbeweeg en die putte vir hulself toegeëien. Dit was nie regverdig nie, maar in plaas daarvan om te baklei, het Isak aanbeweeg en nuwe putte gegrawe – en God het hom ryklik geseën.

Die waarheid is dat God die leegheid in jou lewe sal vul wanneer jy diegene wat jou seergemaak het, vergewe. So lank as wat ons hierdie planeet met ander onvolmaakte mense deel, sal hulle ons seermaak. Ons kan dit nie vermy nie. Wanneer die wond diep sny, kan dit moeilik wees om te vergewe.

Beteken dit dat jy moet rondgaan en maak asof niks verkeerd is nie en jou gevoelens moet ontken? Nee, die eerste stap na genesing is om jou gevoelens te erken. Jesus het vir ons die tweede stap gegee: ‘…Bid vir hulle wat jou seermaak’ (Lukas 6:28 NLV). Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets onverwags. Jou hart begin sag word en jy begin om die oortreder deur God se oë, in plaas van jou eie rou emosies, te sien. ‘Maar ek wil hulle nie vergewe nie!’ sê jy. Dan is daar stap drie. Erken jou onwilligheid om te vergewe en vra God om jou gewillig te maak. Bid: ‘…Bring ons terug en herstel ons…’

Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15