Vergewe ander mense (1)
2022-02-25Romeine 12:19 NLV
Lank nadat jy gedink het jy het iemand vergewe, mag jy steeds harde gevoelens koester. Jy dink en praat byvoorbeeld die heeltyd oor die insident. Jy neem elke geleentheid waar om hulle aan dit wat hulle gedoen het, te herinner. Jy is dan besig om ‘n onvergewensgesinde houding te regverdig! Daar is twee dinge wat God nie sal deel nie.
1) Die eer en lof wat Hom toekom. ‘…My eer deel Ek met niemand anders nie. Die lof wat My toekom, deel Ek nie met afgode nie’ (Jesaja 42:8 NLV).
2) Die reg om te vergeld. Paulus skryf: ‘Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.’ Doen eerder wat die Skrif sê: ‘As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.’ Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:19-21 NLV).
Vergewe dus, gee die situasie aan God oor en vertrou Hom om dit uit te werk. ‘Toe [Jesus] beledig is, het Hy nie terugbeledig nie…Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel’ (1 Petrus 2:23 NLV). Wrokkigheid ketting jou aan die oortreder vas en jy eindig as ‘n gyselaar op. As jy aanhou dink aan iets wat jou ouers of eggenoot gedoen het, of hoe ‘n kollega krediet vir jou werk geneem het, of dit wat iemand dalk oor jou gesê het, laat dit jou – nie hulle nie – ellendig voel. Moenie enigiemand daardie tipe beheer oor jou lewe gee nie. Vergewe – en beweeg dan aan!
Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11