Ten goede vir jou en tot sy glorie
2018-11-061 Petrus 2:20 NLV
Baie van die mense wat ons in die Skrif bewonder, is sleg behandel. En God het toegelaat dat dit gebeur. Dink aan Daniël wat vir die leeus gegooi is en Josef wat in die tronk beland het. Hulle het niks gedoen om dit te verdien nie. Die Bybel sê: ‘…Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dit is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Trap in sý spore’ (verse 20-21 NLV). Let op dat jy ‘geroep’ is om moeilikheid te oorkom. Daar is ‘n doel in die pyn. Niks kan jou aanraak as dit nie eers deur jou liefdevolle hemelse Vader se hande gegaan het nie. Hy het dit alles vooruit geweet en alles wat jy nou deurmaak, berei jou voor om Hom meer effektief te dien. Paulus het gesê, ‘Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos… Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel…’ (2 Timoteus 4:16-17 DB). Paulus het dit nie as iets gesien wat hy eenvoudig moes verduur nie, hy het dit as vooruitgang gesien! Wees dus bemoedig; jy is besig om in genade en kennis van die Here te groei (sien 2 Petrus 3:18). Jy is in die voorbereidingsfase. Of God jou nou uit die situasie of deur die situasie neem, vertrou Hom. Hy werk ten goede van jou en tot sy glorie.
Sielskos: Jes 45-48; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 28:21-24