2022-05-18
Spreuke 4:23 NLV
‘n Wyse persoon het een maal gesê: ‘Jy is nie wat jy dink jy is nie, maar wat jy dink – dit is jy.’ Blywende verandering begin altyd met nuwe denke. Hoe het jy ‘n Christen geword? Deur jou sondes te bely en jou vertroue in Christus te plaas. Die Griekse woord vir bekering is metanoia, wat beteken om jou gedagtes te verander. Ons verander nie deur wilskrag nie, maar deur die transformerende krag van God se Woord, wanneer ons dit gebruik om ons gedagtes elke dag te vernuwe.
Die Bybel leer ons duidelik dat die manier wat ons dink die manier wat ons voel bepaal, en die manier wat ons voel bepaal die manier wat ons optree. As jy dus jou aksies wil verander, moet jy na die bron terugkeer en die manier wat jy dink verander. Soms kan jy op ‘n gegriefde manier optree. Hoekom? Omdat jy gegriefd voel. Weet jy hoekom jy gegriefd voel? Omdat jy gegriefde gedagtes dink. Dieselfde is waar van woede, bekommernis, wellus en ander destruktewe gedagtespatrone.
Jesus het gesê: ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). Wanneer jy jou lewe op die waarheid baseer, met die regte soort gedagtes lewe – nie wanopvattings of valse oortuigings nie – en jou lewe daarop baseer om vanuit God se Woord te dink, sal jy vrygemaak word. Jy sal sien hoe jou ou gewoontes, gevoelens en optredes begin wegval.
Wanneer jy slegs daarop fokus om slegte gedagtes te verwyder, skep jy ‘n vakuum waarna slegte gedagtes kan terugkeer. Wanneer jy egter jou slegte gedagtes met goeie gedagtes – Skriftuurlike gedagtes – vervang, word jy deur God bemagtig om die lewe van seën wat Hy wil hê jy moet geniet, te leef.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 10:11-20; Ps 72:1-11; Spr 11:19-21
2022-04-16
1 Korintiërs 15:55 NLV
Wetstoepassers gebruik lokvalle om slegte ouens om die bos te lei om hulle so tot ‘n val te bring. Dis wat God aan die kruis met Satan gedoen het. Vir drie dae het dit gelyk of Satan gewen het. Toe het Jesus uit die dood uit opgestaan en sy planne omver gegooi: ‘So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer’ (Kolossense 2:15 NLV).
Die ding wat Satan die meeste gevrees het; die geboorte van ‘n kerk met die krag om die wêreld deur die evangelie te verander, het gebeur. ‘Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie’ (1 Korintiërs 2:8 NLV).
Christus se vyande het selfs probeer keer dat die waarheid oor die opstanding bekend word: ‘Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: ‘Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel’…’ Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is…’ (Matteus 28:13-15 NLV).
Hoekom haat sommige mense vir Jesus? Omdat die opstanding die fundamentele bewys is dat Hy die Here is! Jy kan immers nie gered word as jy nie in die opstanding glo nie: ‘Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered’ (Romeine 10:9-10 NLV).
Sielskos: Lev 26-27; Luk 23:50-56; Ps 69:7-21; Spr 10:6-7
2022-03-09
Jesaja 30:21 NLV
‘n Gerespekteerde skrywer was saam met haar man en vriende op die toppunt van ‘n berg, besig om te bespreek watter rigting om te stap. Een ou het gesê: ‘Dis suid!’ ‘n Ander een het geantwoord: ‘Nee, dis oos in daardie rigting.’ Elkeen het ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi, totdat die vrou se man uiteindelik ‘n kompas na vore gebring het en gesê het: ‘Ons kan hierdie argument vinnig opklaar.’ Binne sekondes het die kompas bevestig dat hulle inderwaardheid wes moes gaan! Die enigste betroubare bron het die laaste woord gehad en niemand kon daarmee stry nie.
Gedurende die dag wedywer baie stemme vir jou aandag en sommige wat soos kundiges klink, mag heeltemal verkeerd wees. Jy moet weet na watter stem om te luister, want as jy net na jou omstandighede kyk, sal jy gedisoriënteerd word. ‘n Onverwagte telefoonoproep, ‘n sukkelende verhouding, ‘n werk wat verloor is of ‘n siek kind kan noord soos suid en oos soos wes laat lyk. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om tot die verkeerde gevolgtrekkings te kom en op die verkeerde pad op te eindig.
Die Bybel sê: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs.'” Daar is net een ware bron van wysheid en waarheid en Petrus het dit besef toe hy gevra het: ‘…Here, na wie toe sal ons teruggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee’ (Johannes 6:68 NLV).
Jy hoef nie elke liewe detail vooraf te weet nie; dis nie hoe God te werk gaan nie. Dikwels wys Hy nie vir ons die groter prentjie nie, omdat dit ons sal oorweldig. Hy wil hê dat jou vertroue in sy karakter en goedheid onwrikbaar moet wees; en dat jy van sy krag afhanklik moet wees om sy plan vir jou te vervul.
Sielskos: Eks 30-32; Luk 14:25-35; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5
2021-11-23
Matteus 13:28 NLV
Jesus het gesê: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ ‘Dis ‘n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit… Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word…'” (verse 24-30 NLV).
Daar is twee belangrike lesse hieruit te leer: 1) Jy moet God se Woord so goed ken dat leuens, maak nie saak hoe oortuigend dit voorgehou word nie, jou nie kan mislei nie. Paulus het die leiers van die kerk in Efese gewaarsku: ‘Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop!..’ (Handelinge 20:30-31 NLV).
2) Jy moet geestelik wakker en op jou hoede wees. Let op dat die sade wat daardie aand gesaai is, eers baie later as onkruid opgekom het. As jy, geestelik gesproke, vir lank genoeg op die verkeerde baan bly, sal jy ver van waar God jou wil hê opeindig en sal jy besef: ‘Dis ‘n vyand se werk!’ Wat is dus die antwoord? ‘Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede’ (Handelinge 2:42 NLV).
Sielskos: 2 Kro 29-31; Joh 12:37-50; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16
2021-03-10
Galasiërs 6:9 NLV
Daar is nie so ‘n ding soos onmiddellike sukses nie, nie as dit by mense of probleme kom nie. Of jy nou tien kilogram of eenhonderd kilogram moet verloor, die gewig kan net een kilogram op ‘n slag afgeskud word. Dis opwindend om op die kruin van die berg te staan, maar jy kan net met een tree op ‘n slag daar kom. Niks groots vind onmiddellik plaas nie; amper alle betekenisvolle sukses in die lewe vind eers na ‘n lang, moeilike wagtydperk plaas. Totdat jy hierdie waarheid aanvaar, sal jy te gou tou opgooi of met minder as die sukses wat God vir jou in gedagte het, tevrede wees.
Jell-O het in 1997 sy eenhonderdste herdenking gevier, maar as die uitvinder daarvan nog gelewe het, sou hy heel waarskynlik min troos in sy produk se sukses gevind het. In 1897 het Pearl Wait baie hoede gedra. Hy was ‘n konstruksiewerker wat ook met patent medisyne geëksperimenteer het wat hy deur tot deur verkoop het. Tydens sy eksperimente het hy met die idee vorendag gekom om vrugtegeursel met gegranuleerde gelatien te meng. Sy vrou het dit Jell-O gedoop en Wait het nog ‘n produk gehad om mee te smous. Ongelukkig was die aanvanklike verkope van sy wriemelrige happie nie so goed soos hy gehoop het nie, dus het hy die regte van sy Jell-O uitvindsel vir ‘n skamele $450 aan Orator Woodward verkoop.
Woodward was ‘n slim besigheidsman. Hy het die waarde van bemarking geken en binne agt jaar het hy die $450 belegging in ‘n miljoen dollar besigheid omskep. Vandag verdien nie een van Pearl Wait se nasate ‘n sent van die meer as een miljoen boksies Jell-O wat elke dag verkoop word nie. Hoekom nie? Omdat Wait nie kon wag nie!
Sielskos: Gen 50; Haggai 1-2; Matt 22:1-14; Ps 27; Spr 7:10-20